SA-tennisster oorleef groot aardbewing

Foto: Mense wat uit geboue ontruim is staan voor die hooggeregshof. Foto: Reuter

‘n Aardbewing van 7,6 op die momentmagnitudeskaal het Woensdag aan die kus van Costa Rica voorgekom, en verskeie huise en ‘n brug het inmekaar gestort. Rik de Voest, die Suid-Afrikaanse tennisster, en sy vrou was daar op vakansie en het die voorval oorleef.

“Die hele villa het geskud en goed het van die rakke af geval. Ons het na buite gehardloop en op die gholfbaan gaan staan en wag dat alles ophou. Ons harte het erg geklop, maar ons is ongedeerd,” het hy op Twitter gesê.

Verskeie paaie is weens grondstortings versper. Twee mense het in verwante voorvalle omgekom – een weens ‘n hartaanval, en een weens trauma, maar van die noodlenigingswerkers moet nog terugrapporteer.

Hoewel die episentrum skaars tien kilometer van twee dorpe was, is skade beperk omdat die aardbewing baie diep onder die aarde – sowat  40 kilometer diep, ontstaan het.

Van die mense wat die aardbewing beleef het, sê hulle kom weens die kwaai skudding nie geloop kry nie, en het aan mekaar vasgeklou.

Die owerheid het die lae ongevallesyfer toegeskryf daaraan dat die mense voorbereid is, en dadelik die voorgeskrewe prosedures gevolg het.

Hierdie aardbewing kom kort na ‘n skudding van M73. in die see by die naburige El Salvador. Daardie skudding is gevolg deur een van M 7,6 in die Filippyne op 31 Augustus.

Die aardbewing by El Salvador het saamgeval met ‘n skielike toename van aardbewings wêreldwyd, hoewel meestal baie swak. In Suid-Kalifornië het ‘n “swerm” van etlike honderde meestal ligte skuddings voorgekom.

Ten spyte van verskeie groot skuddings die afgelope maand, is die aarde vanjaar nog “agter skedule” wat grotes na M7 of meer betref, as dit met die aantal die afgelope paar jaar vergelyk word.

Sedert die twee groot skuddings van onderskeidelik M8.6 en M8.2 op 11 April vanjaar by Sumatra, was daar ‘n lang “stilte” aan grotes tot die skudding van M7,7 aan die Siberiese kus op 14 Augustus. Kort tevore is die noordweste van Iran deur aardbewings, waarvan die sterkste M 6,4 was, geskud, waartydens meer as 300 mense dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.