SA trio skitter by die Grammy-toekennings

Wouter Kellerman, Zakes Bantwini en Nomcebo Zikode het met die toekenning vir die beste wêreldoptrede by vanjaar se Grammy-toekennings weggestap. (Foto: Fredereic J. Brown/AFP)

Die Suid-Afrikaanse musiektrio, Wouter Kellerman, Zakes Bantwini en Nomcebo Zikode het met die toekenning vir die beste wêreldoptrede by vanjaar se Grammy-toekennings weggestap.

Dié toekenning is vir hul samewerkingsliedjie, “Bayethe”.

“Dankie! Hierdie is ’n pragtige oomblik op die pad om Suid-Afrikaanse musiek en kultuur met die wêreld te deel,” het die fluitspeler, Kellerman, gedurende hul ontvangstoespraak gesê.

“Dankie Nomcebo, dankie Zakes vir jul ongelooflike kreatiwiteit.”

Dit is Kellerman se vierde Grammy-benoeming en die tweede keer wat hy die gesogte toekenning ontvang. Vir Zakes en Nomcebo is dit ’n eerste.

Nomcebo sing die internasionale treffer “Jerusalema” en Zakes is ʼn sanger en musiekvervaardiger.

“Bayethe” is ʼn Zoeloelied en oorlogskreet oor betekenis in moeilike tye. “Tye soos waardeur die mensdom tans worstel,” skryf Kellerman op sy webblad oor dié lied.

Dit dra ʼn universele boodskap dat “ons bymekaar moet kom, sterk moet staan en ons laste ligter moet maak. Die liedjie is  ʼn oproep tot vrede en geluk.”

Die groep is kort op DJ Black Coffee se hakke nadat hy die Grammy-toekenning in die kategorie vir beste elektroniese dansliedjie tydens die 2023-Grammy-toekennings ingepalm het.

Die 65ste jaarlikse Grammy-toekenningsgeleentheid is in Los Angeles gehou en is deur die Suid-Afrikaanse komediant, Trevor Noah, aangebied.

Luister hier na die liedjie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ilze ·

Republikein in die Wes Kaap. Wens hulle geluk met wat hulle vermag het. Hou die politiek vir ‘n ander artikel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.