SA tronke 25% oorbevolk en oorbenut

Pretoria Sentraal-gevangenis

Suid-Afrika se tronke is oorbevolk en word oormatig benut, het Sbu Ndebele, minster van korrektiewe dienste, Maandag gewaarsku.

“Oorbevolking kan óf die gevolg wees van gebrekkige korrektiewedienste-fasiliteite, óf ʼn gevolg van oormatige gebruik van tronkstraf in die regstelsel,” het Ndebele gesê.

“Oormatige gebruik van tronke word deels veroorsaak deur die onoordeelkundige gebruik van voorverhoor-aanhouding in die regstelsel.”

Ndebele het in Boksburg by ʼn nasionale seminaar oor oorbevolking in gevangenisse gepraat. Hy het aan afgevaardigdes gesê Suid-Afrika het die grootste tronkbevolking in Afrika, en die negende grootste in die wêreld. Suid-Afrika het 310 gevangenes vir elke 100 000 mense, terwyl ʼn land soos Nigerië, wat ʼn bevolking van 166.3 miljoen het, slegs sowat 31 gevangenes vir elke 100 000 mense het.

Volgens hom is sowat 30% van die aangehoudenes in Suid-Afrikaanse tronke verhoorafwagtend. Die totale aantal gevangenes is byna 150 000, terwyl daar slegs plek is vir sowat 120 000 gevangenes – ʼn oorbesetting van sowat 25%.
Om hierdie probleem van oorbevolking aan te spreek, sal die departement nou met die departement van justisie saamwerk om die hoeveelheid tyd wat verhoorafwagtendes in aanhouding is, te verminder, het hy gesê. Daar sal ook gekyk word na ander strawwe vir eerstekeer-oortreders.

Regter Siraj Desai, voorsitter van die Nasionale Raad van Korrektiewe Dienste, het gesê die probleem van oorbevolking in gevangenisse is deels vererger deur die aantal gevangenes wat lewenslange tronkstraf uitdien. Dié gevangenes het sedert 1995 met sowat 2 400% toegeneem. In 1995 was daar 433 gevangenes wat lewenslange tronkstraf uitgedien het, teenoor die 10 314 tans. Meer as 10% van gevangenes dien dus lewenslange tronkstraf uit.

Toe die land weggedoen het met die doodstraf, het niemand gedink hoe hulle lewenslange vonnisse gaan hanteer nie, het hy gesê. Onder huidige wetgewing kom sulke gevangenes na 14 jaar in aanmerking vir parool, maar slegs indien hulle owerhede kan oortuig dat hulle nie weer ʼn oortreding sal begaan nie. “Die kans is egter goed dat hy weer ʼn oortreding sal begaan,” het hy gesê.

Die toename in die aantal gevangenes wat lewenslange vonnisse uitdien, is egter nie as gevolg daarvan dat daar weggedoen is met die doodstraf nie, het hy bygevoeg. Van 1960 tot 1989 is slegs 2 000 mense deur die staat gehang – dus nie genoeg om die toename in lewenslange vonnisse te verklaar nadat daar met die doodstraf weggedoen is nie. Die toename in lewenslange vonnisse is aan verskeie faktore toe te skryf, insluitend ʼn toename in gewelddadige misdaad, het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.