SA-uitvindsel verskyn op Grey’s Anatomy

Die toneel in Grey’s Anatomy

ʼn Skandeer-toestel wat in Suid-Afrika ontwerp, vervaardig en versprei word, is in ʼn episode van die gewilde mediese televisieprogram, Grey’s Anatomy, ten toon gestel.

In die episode drom die akteurs saam om die masjien, wat deur Lodox Systems vervaardig word, en staar verstom hoe die skandeerder ʼn vollyf x-straal van ʼn beseerde persoon binne 13 sekondes afhandel. Dit is gewoonlik ʼn prosedure wat normaalweg bykans 20 minute lank duur, berig The Star.

Volgens die berig is dié Lodox-toestel die eerste vollyf, hoëspoed digitale x-straal-skandeerder van sy soort.

Die skandeerder is oorspronklik ontwerp vir sekuriteitsdoeleindes by Suid-Afrikaanse diamantmyne, maar Lodox het die tegnologie vir mediese doeleindes vervaardig. Pieter de Beer, Lodox se uitvoerende hoof, is baie trots dat sy maatskappy se toestel op dié gewilde Amerikaanse televisieprogram ten toon gestel word.

“Grey’s Anatomy is slegs ʼn televisieprogram, maar in die regte lewe red plaaslike en internasionale dokters die lewens van verskeie mense met die toestel, omdat dit die doeltreffendste manier is vir traumabehandeling in hospitale,” het De Beer gesê.

Volgens De Beer word die toestel tans by 13 staatshospitale gebruik, en een privaat hospitaal. Die toestel word ook by twee lykshuise gebruik om die oorsake van sterftes te bepaal.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Helizna Kilian ·

Ons Boere kry dit gedoen, in ‘n fraksie van die tyd…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.