SA voer botoon in voorspelbare S15-naweek

Aan die Super15-front het alles die week redelik voorspelbaar verloop. Daar was nie regtig enige verrassings nie.

Met die wegspringslag moes die Stormers die Hurricanes in ‘n byna stormwind die stryd aansê. Die groot verskil tussen wen en verloor was die briljante, dog ongewone, gesig van ’n vleuel, in die vorm van Bryan Habana, wat die doelskop ná Andre Taylor se drie afgestorm en gedeflekteer het sodat die twee punte nie verwerf is nie.

Dit was ook die verskil tussen ‘n oorwinning en gelykop speel. Die Hurricanes bly meesters van die teenaanval, maar ons het ook gesien dat hul vaste vyf swig onder druk.

Die Bulls moet hiervan kennis neem want hulle moet eerskomende Saterdag die nodige teen dieselfde Hurricanes op Loftus doen.

Die Blues en die Reds was in ‘n titaniese stryd gewikkel wat uiteindelik deur die Reds gewen is, maar die Blues het in die laaste vyf minute – toe hulle met 12-11 agter was – twee kritieke aanslaanfoute begaan wat die wedstryd in hul guns kon geswaai het.

Die Chiefs het weggespring asof hulle binne die eerste 20 minute hul bonuspunt vir ‘n vierde drie teen die Sharks wou aanteken. Hulle het ‘n blitzkrieg op die Sharks uitgevoer en ná 16 minute se spel reeds met 24-0 voorgeloop. Nou moet ons bysê dat swak verdediging deur die Sharks daartoe bygedra het.

Daarna het die Sharks die slaap uit hul oë gevee en met mening teruggeveg, sodat hulle met rustyd slegs met vyf punte agter was. Die Sharks het hul kanse vir ‘n dubbele bonuspunt verspeel toe hulle in die 80ste minuut van die wedstryd ‘n strafskop afgestaan het om die eindtelling 37-29 ten gunste van die Chief te maak.

Die Bulls het danksy Morné Steyn se skoen rustyd met 12-5 voorgeloop. Die Waratahs was egter die gevaarlike span. Uiteindelik het die Bulls die wedstryd met 30 punte teenoor 19 gewen danksy twee vinnige drieë laat in die tweede helfte deur Francois Hougaard en Steyn.

Dit bring my by die kwessie van die Argentynse skeidsregters.

Omdat Argentinië nou in die Rugbykampioenskap-reeks speel, kry hulle skeidsregters die geleentheid om hul slag in die Super15 reeks te toon.

Ek haal vir Nick Mallet aan wat behoorlik gal afgeblaas het oor die onvermoë van die skeidsregters om die wedstryd goed te hanteer. Hy het talle foute gemaak, veral by die onkantlyne. Dit kan groot ongelukkigheid veroorsaak as een van die voorloperspanne ‘n wedstryd deur swak beslissings verloor.

Indien ‘n Argentynse skeidsregter blaas, moet die twee assistent-skeidsregters baie meer insette lewer sodat blatante foute nie weer ooglopend toegelaat word nie.

Almal het verwag dat die Cheetahs met gemak hulle bonuspunt teen die Kings sou verdien.

Moenie glo nie. Danksy dieselfde vasberadenheid en skiitterende verdediging waarmee die Kings hul vorige wedstryde aangepak het, moes die Cheetahs met vier wedstrydpunte tevrede wees.

Dit was die tiende week wat die Cheetahs sonder ‘n breuk speel en die tamheid het begin wys. Gelukkig kry hulle ‘n welverdiende ruskans met ‘n loslootjie eerskomende Saterdag.

Die Crusaders moes Sondagoggend voor kerk hard spook om ‘n begeesterde Rebels-span met 26-30 te wen.

Die Crusaders sonder Richie Mcaw en Dan Carter lyk maar bra gemiddeld.

Die naweek se watertand-lekker wedstryd sal wees tussen die Stormers en die Blues. Die Sharks behoort teen die sukkelende Highlanders te seëvier as hulle die spelpeil van die tweede gedeelte van die eerste helfte teen die Chiefs kan herhaal.

Die Bulls pak die Hurricanes op Loftus en behoort die wedstryd te wen.

Die Waratahs behoort te veel skietgoed vir die Kings te hê en selfs die fanatiese ondersteuning van die Oos-Kaapse skare sal nie ‘n verskil kan maak nie.

Rugbygroete tot volgende week.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.