SA vrou dalk wêreld se oudste

Johanna Mazibuko van Klerksdorp in Noordwes is moontlik die oudste persoon in die wêreld.

Mazibuko is volgens haar identiteitspapiere in 1894 gebore. Die 119-jarige maak steeds elke oggend haar eie bed op. Sy is die oudste van 10 broers en susters en het vyf van haar eie sewe kinders reeds uitoorleef. “God het my lewe in oorvloed gegee, plus ʼn bonus. Ek is nou baie oud.” Haar seun Tseko (77) bly saam met sy ma. “Sy kan self rondbeweeg maar kan nie te lank staan nie. Sy raak duiselig.” Mazibuko trek haarself egter steeds aan, kook en doen selfs die wasgoed. Mazibuko se ID-boeke wat in 1986 uitgereik is, gee haar geboortedatum as 11 Mei 1894. Die departement van binnelandse sake kon egter nie onmiddellik die egtheid daarvan bevestig nie. Die wêreld se vorige oudste persoon Jiroemon Kimura van Japan is in Junie in die ouderdom van 116 oorlede. Sy tuisdorp Kyotango gaan navorsing doen oor hoekom die dorpie se inwoners so lank lewe. Minstens 94 ander mense in die dorpie sal vanjaar 100 jaar of ouer wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.