SA-vrou en kleuter sterf in brand in Doha, Katar

Shameega Charles

Een Suid-Afrikaanse vrou en ʼn kleuter is van die vermoedelik 19 mense wat Dinsdag in ʼn brand in Doha, Katar, gesterf het.

Shameega Charles (29) het by ʼn kindersorgsentrum in die Villagio Mall, ʼn winkel- en vermaaksentrum, gewerk toe die brand uitgebreek het. Dertien van die 19 mense wat dood is, was kinders. ʼn Tweejarige drieling van Nieu-Seeland was ook onder die slagoffers. Charles se gesin het sedertdien in verbinding getree met die konsulaat in Doha om haar begrafnisreëlings te finaliseer. Haar pa, Faiek Charles, sê sy sal Dinsdag begrawe word. Shameega het Saterdag haar 29ste verjaarsdag gevier en haar gesin het in Mitchell’s Plain bymekaar gekom om haar oor Skype geluk te wens.

Haar ma, Maryam Charles het ‘n brief aan Doha News geskryf:

My dogter, Shameega Charles, 29 jaar oud, was ‘n onderwyseres by Gympanzee en het in die brand omgekom. My simpatie aan al die ander gesinne wat geliefdes in die brand verloor het. Ons bid dat God Almagtig dit vir ons almal maklik sal maak. Haar 5-jaaroue seuntjie mis haar vreeslik en het na haar besoek in Augustus uitgesien. Ons het hom nog nie vertel dat sy ma gesterf het nie.
Maryam Charles

Die ander Suid-Afrikaanse slagoffer is glo die 15-maandeoue seuntjie, Umar Emeran, van die Bo-Kaap. Emeran se gesin is nog besig om sy begrafnisreëlings af te handel.

Die brand het in die kleuterskool uitgebreek en brandbestryders moes deur die dak breek om die kinders, wat in die brand vasgekeer was, te bevry. Die trappe na die kleuterskool op die eerste verdieping het ineengestort. Die oorsaak van die brand is nog onbekend.

Van die slagoffers sluit in:
Hana Sharabati, 3 jaar oud
Mahmoud Haidar, Siviele Weermag
Shameega Charles, 29, Suid-Afrika
Omar Emraan, 18 maande oud, Suid-Afrika
Hossam Chahboune, Morokkaanse brandbestryder
Lillie, Jackson en Willsher Weekes (drieling, 2 jaar oud, Nieu-Seeland)
Maribel Orosco, onderwyser, Filippyne
Margie Yecyec, onderwyser, Filippyne
Julie Ann Soco, onderwyser, Filippyne

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.