Saak teen Bobby Motaung en ander laat vaar

Bobby Motaung

ʼn Saak van bedrog, korrupsie en vervalsing teen Bobby Motaung, hoof van Kaizer Chiefs en twee ander mans is Maandag in die Nelspruit-streekshof laat vaar, het die SAUK berig.

Landdros Roelf Smith het die saak van die rol geskrap, aangesien hy “geen vooruitgang” in die saak kan sien nie.

Die SAUK berig die hof het aangehoor dat daar twee teenstrydige briewe was met opdrag waar die saak aangehoor moet word. Smith het glo ook dié briewe gebruik om sy besluit te regverdig.

Motaung, sy sakevennoot Herbert Theledi, en voormalige hoof uitvoerende beampte van Lefika Emerging Equity, Chris Gribb, is van korrupsie in verband met die oprigting van die Mbombela-stadion voor die 2010 Fifa-sokkerwêreldbeker, beskuldig.

Die drie beskuldigdes het in April gepoog om die saak te laat skrap. Hulle het versoek dat die aanklagte teen hulle voorlopig teruggetrek moet word totdat die staat beter voorbereid is. Die hof het hulle aansoek van die hand gewys.

Die drie staar nog ʼn tweede aanklag in die gesig, wat verband hou met R920 miljoen waarby Gribb se voormalige prokureur Michael Romanos, voormalige Mbombela munisipale bestuurder Jacob Dladla, en voormalige Ehlanzeni tegniesedienstebestuurder van die distriksmunisipaliteit Tebogo Kubeka, glo betrokke is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.