Saak teen LUR-bestuurder wat matriek omry

Thomas Ferreira saam met sy vriendin Chanel Kloppers. Foto: Facebook

ʼn Saak van roekelose of nalatige bestuur is teen die Gautengse LUR, Humphrey Mmemezi, se ampsmotorbestuurder aanhangig gemaak.

ʼn Polisiewoordvoerder, lt. kol. Katlego Mogale, sê die bestuurder is nie in hegtenis geneem nie en die saak word ondersoek. Mogale sê die bestuurder kan moontlik ‘n lasbrief ontvang om in die hof te verskyn. Daar is vroeër bekendgemaak dat Mmemezi in sy ampsvoertuig was toe dit Saterdagoggend ʼn matriekseun in Krugersdorp aan die Wes-Rand omgery het. Hy is glo onmiddellik van die toneel verwyder en na ʼn dringende afspraak gehaas. Thomas Ferreira (18) is in ʼn ernstige toestand in die hospitaal nadat hy Saterdagoggend op sy motorfiets onderweg na Randfontein deur ʼn wit BMW X5 raakgery is. Die premier van Gauteng, Nomvula Mokonyane het intussen Dinsdag Ferreira se familie besoek en gesê die provinsiale regering sal Thomas se mediese koste dra. Thomas word in die Krugersdorp-hospitaal behandel nadat hy onder meer ’n gebreekte arm en been, verskeie gesigfrakture en swelling en bloeding op die brein opgedoen het. Volgens ʼn ooggetuie, Lizanne van Wyk, het die BMW ʼn rooi verkeerslig verontagsaam. Die motor het glo nie sirenes gehad nie maar wel ʼn blou lig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.