Saak teen seun na pa sterf in trekker-ongeluk

ʼn Saak van strafbare manslag word ondersoek na ʼn boer van Delareyville in Noordwes Woensdag in ʼn trekker-ongeluk dood is.

Brig. Thulani Ngubane sê die 63-jarige boer en sy 30-jarige seun was in ʼn stoor op die plaas Driekant besig gewees ten tyde van die voorval. “Die seun het glo die trekker agteruit gery terwyl sy pa probeer het om die ploeg aan die trekker vas te haak.” Ngubane sê die seun het die trekker in trurat gelos en afgeklim om sy pa te probeer help. “Die trekker het agteruit begin loop en die pa teen die ploeg vasgedruk. Die seun het terug op die trekker gespring in ʼn poging om sy pa te probeer help.” Ngubane sê dit was egter reeds te laat en die pa is op die toneel dood verklaar. Die polisie het ʼn saak van strafbare manslag aanhangig gemaak. Ngubane sê ʼn nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van die pa se dood te bepaal. “Die seun is nie in hegtenis geneem nie en die dossier sal na die direkteur van openbare vervolging verwys word om te besluit of hy vervolg sal word.” Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.