Klagtes teen die twee Johannesburgse polisiebeamptes wat daarvan beskuldig is dat hulle verlede jaar twee susters verkrag het, is laat vaar, het die Onafhanklike Klagtedirektoraat (ICD) Vrydag gesê.
Woordvoerder Moses Dlamini het gesê DNA-toetse het die twee as verdagtes uitgesluit. “Die verdagtes se bloed is met die monsters vergelyk wat van die slagoffers geneem is. Geen manlike DNA is opgespoor nie wat die polisiebeamptes gevolglik as verdagtes uitsluit,” het hy gesê. “Die ICD is deur die Direkteur van Openbare Vervolging in kennis gestel dat die klagtes teruggetrek is.” Die twee mans is daarvan aangekla dat hulle op 2 Desember die twee susters gelyktydig op twee verskillende plekke verkrag het. Die polisiebeamptes het glo by die meenthuiskompleks gestop waar die susters bly, maar die opsporingstoestel in hul voertuig dui glo aan dat hulle nie ten tyde van die verkragtings op die toneel was nie, het Dlamini gesê.