SAAT moet veiligheid van Solidariteit-lede verseker

Argieffoto.

Argieffoto.

Solidariteit het Vrydag ʼn beroep op South African Airways Technical (SAAT), die tegniese afdeling van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), gedoen om die veiligheid van die vakbond se lede te verseker. Dit kom nadat ontevrede lede van die South African Transport and Allied Workers Union (Satawu) vanoggend onder meer bande gebrand het tydens ʼn staking by SAAT se perseel in Kempton Park.

Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit, sê die vakbond se lede is vroeër vanoggend huis toe gestuur uit vrees vir hul veiligheid. “SAAT het die vakbond later verwittig dat sy lede kan terugkeer werk toe. Solidariteit sal egter nie huiwer om sy lede weer aan die werkplek te onttrek indien enige vorm van geweld of intimidasie voorkom nie. Solidariteit verteenwoordig talle senior lugvaarttegnikusse by SAAT se instandhoudingsvleuel, wat onder meer verantwoordelik is vir die instandhouding van vliegtuie en om seker te maak dat die vliegtuie veilig en gereed is om te vlieg. Indien Solidariteit-lede wel weens veiligheidsredes aan die werkplek onttrek moet word, kan dit verdere ontwrigting van die maatskappy se bedrywighede tot gevolg hê. Solidariteit sal nogtans alles in sy vermoë doen om die publiek se veiligheid ten opsigte van vliegtuie se diensbaarheid eerste te stel.”

Die betogings deur Satawu-lede kom nadat loononderhandelinge tussen dié vakbond en die werkgewer vasgeval het. SAAT het intussen ʼn interdik gekry om Satawu se lede te dwing om by die reëls en wette te hou tydens betogings. Die werkgewer sal weer vandag die hof nader aangesien die interdik geminag word. SAAT en die ander vakbond, die Aviation Union of Southern Africa (AUSA), het vroeër die week ʼn ooreenkoms bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

a.lombard ·

Die vraag is ? doen hulle dit, want ek wou ‘n vlug bespreek vir iemand op SA lugdiens(nou geaffilieer met Lufthansa) en op die keuse van TAAL! is geen Afrikaans nie!
Dus as die taal vir soveel Afrikaans sprekende reisigers nie eers erken word nie, waarom sal die Aksie van Solidariteit enige reaksie voort bring? Miskien,as die Taalkeuse ook bygevoeg word, versterk dit die saak , of alternatiewelik, “n Boikot “” van Afrikaans sprekende reisigers. Twee jaar gelede het ek gevlieg met Lufthansa lugdiens die aankondiging was net in Duits en Engels, ondanks dat die vliegtuig vele Afrikaans- sprekende passasiers aan boord gehad het.SAlugdiens moet ook die taal respekteer van die Afrikaans sprekende belasting betalers, ook hulle affiliate.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.