Saders sink Stormers in Kaapse riller

Joe Pietersen van die Stormers Foto: skysports.com

Onverbiddellike verdediging, die Stormers se lynstaanprobleme en berugte onvermoë om drieë te druk het die Crusaders ‘n belangrike sege oor die Kapenaars besorg.

Die besoekers het met 19-14 gewen nadat hulle halftyd met 13-11 voor was.

Daarmee sluit Suid-Afrika ‘n droewige Super15-naweek af met net die Cheetahs wat as wenners uit die stryd getree het.

53,000 fanatiese ondersteuners het gejuig toe Joe Pietersen in die agtste minuut die eerste punte van die wedstryd met ‘n strafdoel aangeteken het. ‘n Paar minute later het die Stormers-flank Siya Kolisi vir sy drie oorgeduik danksy ‘n rolmaalbeweging deur sy pak voorspelers. Pietersen skop teen die pale vas en die telling bly 8-0 in die tuisspan se guns.

Kort daarna is Pietersen egter suksesvol met ‘n strafdoel en die Stormers was stewig in die saal met die telbord wat 11-0 gewys het.

Maar enigiemand wat die Saders ken, weet hulle gaan nooit lê nie en die flank Matt Tood het dadelik ‘n paar verdedigers geklop om onder die pale te gaan kuier. Tyler Bleyendaal het die drie verdoel en dit opgevolg met twee strafskoppe om die besoekers die voortou voor halftyd te laat neem.

Die Saders het na ‘n nuwe rat ná rystyd oorgeskakel en een doel voor oë gehad: om aan te val. Hulle het die Stormers doeltreffend vir lang periodes op hul doellyn vasgekeer en met skoppies na die hoek gepeper waar hulle die bal by Andries Bekker en die ander Stormers-springers afgeneem het.

Die Stormers-agtsteman, Duanne Vermeulen, is daarbenewens met ‘n geelkaart koelkas toe gestuur nadat hy vir Zack Guildford opgetel en op sy rug laat val het. Blyandaal het geen foute met die strafskop gemaak nie.

Pietersen en Blyandaal het elkeen nog ‘n strafskop oorgeklits om die telling na 19-14 te laat aanbeweeg. Gedagtig daaraan dat slegs ‘n drie die slag sou lewer, het die Stormers ‘n verwoede aanval op die Saders se doellyn in die laaste 10 minute geloods. Dit was egter vergeefs en die Nieu-Seelanders se rotsvaste verdediging het gewys hoekom hulle hierdie kompetisie al sewe keer gewen het.

Die Crusaders speel volgende week teen die Sharks en die Stormers teen die Cheetahs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Jammer, maar Duane Vermeulen het in ‘n groot mate die wedstryd vir die Stormers gekos – ongeoorloofde spel met 3 punte as bonus daaruit vir die Crusaders en 10 minute van die veld af met slegs 14 spelers wat die spel teen die opponente moes voortsit. Kan nie dink dat Afrigters en spelers nog nie die implikasie van ongeoorloofde spel besef asook hoe nadelig dit ‘ n span kan tref nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.