Sakeman betaal glo meer as R900 000 om renoster te jag

Foto: www.rhinoconservation.org

ʼn KwaZulu-Natalse sakeman het glo meer as R900 000 betaal om ʼn witrenoster in die Hluhluwe wildreservaat te jag.

ʼn Woordvoerder van die KwaZulu-Natalse natuurbewaringsdienste (Ezemvelo), Waheeda Peters, het aan IOL bevestig dat die sakeman R960,150 betaal het om die renoster te jag. Peters sê die datum vir die jag is nog nie vasgestel nie. Ezemvelo het op sy webtuiste ʼn tender uitgesit waar persone wat ʼn jaglisensie het genooi is om te bie op die skiet van ʼn witrenoster. Simon Bloch, ʼn teenstander van renosterjag, het met skok reageer. “Ons is veronderstel om teen stropery te veg. Watter boodskap stuur dit uit as ons self ons renosters skiet?” Bloch sê sy organisasie, Outraged South African Citizens Against Poaching, het Ezemvelo gevra om die toeken van die tender uit te stel aangesien hulle self die geld probeer bymekaar maak het om die witrenoster te koop en te red. Die uitvoerende hoof van Ezemvelo, Bandile Mkhize, sê die fondse wat deur die jag gemaak word, word vir natuurbewaring aangewend. “Die verwydering van ‘n klein hoeveelheid individueel geïdentifiseerde renosterbulle verbeter eintlik die algehele metabevolking se groeikoerse en bevorder genetiese bewaring,” het Mkhize volgens berigte gesê. Meer as 405 renosters is reeds vanjaar vir hulle horings doodgemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.