Sakeman glo beroof ná bomdreigement by PTA-winkelsentrum

Argieffoto: mallatreds.co.za

ʼn Sakeman van Pretoria is Maandagoggend glo deur drie vermeende rowers van ʼn onbekende hoeveelheid kontant beroof toe hy die Mall@Reds-winkelsentrum moes ontruim ná ʼn bomdreigement.

Kapt. Agnes Huma, ʼn polisiewoordvoerder van die Wierdabrug-polisiestasie, het aan Maroela Media bevestig die winkelsentrum het Maandagoggend ʼn bomdreigement ontvang en moes ontruim word.

“Die polisie se honde- en bomeenheid is na die toneel ontbied en het die winkelsentrum kort daarna veilig verklaar,” het Huma gesê.

Intussen beweer die sakeman hy was in ʼn bank om kontant van drie ondernemings in te betaal toe hy die sentrum, met al die kontant, moes ontruim.

Die man beweer ʼn Golf met drie gewapende rowers het hom in die sentrum se parkeerterrein genader terwyl hy na sy voertuig onderweg was. Hulle het hom glo oorrompel en van ʼn onbekende hoeveelheid kontant beroof.

Huma het aan Maroela Media gesê die polisie ondersoek ʼn saak van gewapende roof. Huma het voorts gesê mense wat vals bomdreigemente maak kan krimineel vervolg word.

Maroela Media het verlede week berig vier winkelsentrums in Pretoria het die afgelope twee maande bomdreigemente ontvang. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.