Sakeman vas oor kinderarbeid

ʼn Sakeman is in hegtenis geneem nadat hy glo jong kinders by ʼn pakhuis in Zastron in die Vrystaat in diens geneem het en nie geldelik vergoed het nie.

Wisane Mavasa, woordvoerder van die departement van arbeid, sê die sakeman het die kinderarbeiders met ʼn koeldrank en ʼn pakkie koekies beloon. Die man het sewe kinders, tussen die ouderdomme van nege en 13 jaar, as pakkers by die fabriek gebruik. Mavasa sê die man is in hegtenis geneem na hulle klagtes ontvang het van bekommerde lede van die gemeenskap. Die kinders moes glo voorraad op vragmotors laai by die man se pakhuise in Zastron en Sterkspruit in die Oos-Kaap. Die kinders moes glo ook dan saam met die vragmotors ry en die goedere in verskillende dorpe aflaai in die middel van die nag. Mavasa sê daar is vasgestel dat van die kinders al langer as drie jaar in die man se diens is en dat hulle vir die sakeman gewerk het sonder enige vergoeding. “Die kinders het elk ʼn 2 liter Tweeza koeldrank en ʼn pakkie koekies gekry na elke skof.” Die sakeman het verlede week Donderdag in die Zastron-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met kinderarbeid. Hy is op borgtog van R2 000 vrygelaat. Die kinderarbeiders is van die perseel verwyder en in die sorg van die departement van maatskaplike ontwikkeling geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.