Sakeman vas oor ‘sameswering tot moord’

Ses mense, inluistend ʼn prominente sakeman, is in Maandagshoek naby Burgersfort in Limpopo in hegtenis geneem oor ʼn beweerde poging om sameswering tot moord.

ʼn Polisiewoordvoerder, brig. Hangwani Mulaudzi, sê die polisie en die Valke het onlangs bewus geword van die 51-jarige sakeman wat glo saam met sy drie seuns en twee werknemers beplan het om ʼn prominente gemeenskapslid te ontvoer en vermoor. Die gemeenskapslid is geteiken na bewerings van ʼn rituele moord. James Tebele (48) het op 23 November vermis geraak en sy ontbinde lyk is op 30 November op ʼn berg gevind. Die polisie ondersoek steeds die saak. Die gemeenskap het in weerwraak die prominente sakeman aangeval aangesien hy glo die laaste persoon was wat saam met die slagoffer gesien is. Die sakeman se huis is afgebrand en een van sy winkels met klippe bestook. Drie verdagtes Jacob Setwelo (27), James Mabeke (41) en Petrus Madingwe (35) is in hegtenis geneem vir openbare geweld en sal na verwagting 29 Februarie in die hof verskyn. Na die aanval het die sakeman glo die hulp van sy drie seuns en twee werknemers gekry om ʼn huurmoordenaar te kry om die gemeenskapslid, wat glo die geweld georkestreer het, te vermoor. Die polisie en Valke het hiervan bewus geword en hulself as huurmoordenaars voorgedoen. ʼn Vuurwapen en R2 000 is aan die “huurmoordenaars” gegee. Die ses mans is in hegtenis geneem en word tans by die Burgersfort-polisiestasie aangehou. Lede van die gemeenskap het intussen vandag weer die sakeman se huis en een van sy winkels afgebrand. Die polisie monitor die situasie. Die ses verdagtes sal Maandag in die Burgersfort landdroshof verskyn op aanklag van sameswering tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.