SAL Helderberg weer in die kollig

SAL Helderberg

Peter Otzen, die seun van ʼn SAL Helderberg-slagoffer, gaan nou, 25 jaar later, die konstitusionele hof nader om die president te dwing om ʼn nuwe ondersoek van stapel te stuur.

Otzen is 10 dae ná die vliegtuigongeluk gebore en nou eis hy die waarheid, berig EWN. “Ons versoek die regering om ʼn nuwe Kommissie van Ondersoek in te stel – een wat onpartydig gaan optree,” het Otzen gesê.

Otzen werk saam met David Klatzow, forensiese kenner, wat glo dat die apartheidsregering ʼn massamoord gepleeg het. Brian Watkins, voormalige bestuurder van SAL, het ook glo aangedui dat hy ʼn nuwe ondersoek sal ondersteun, maar is bekommerd dat van die dokumentasie reeds vernietig is, sommige persone reeds oorlede is en ander nie daaroor sal praat nie.

Die Boeing 747-vliegtuig het op 28 November 1987 weens ʼn brand aan boord in die Indiese Oseaan naby Mauritius neergestort. Vlug SA295 was van Taiwan via Mauritius na Johannesburg onderweg. Al 159 persone aan boord, insluitend die vlieënier, kapt. Dawid Jacobus Uys, het omgekom.

Die ramp word steeds as ʼn raaisel beskou en talle gerugte oor die moontlike oorsaak van die ongeluk doen steeds die rondte. Sommige beweer die brand het ontstaan weens die vlambare, onwettige brandstof wat aan boord vir die apartheidsregering vervoer is.

Volgens dr. Klatzow, wat intensiewe navorsing oor die ongeluk gedoen het, was daar twee afsonderlike brande aan boord. Volgens Klatzow kon die bemanning die eerste brand blus, maar die tweede brand het buite beheer geraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.