SAL-hoof bedank

Siza Mzimela, die hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het bedank.

Volgens die departement van openbare ondernemings sal Mzimela vir die volgende paar weke in haar pos aanbly. Mzimela het Maandag ‘n e-pos aan werknemers gestuur om hulle oor haar bedanking in te lig. Cheryl Carolus, die voorsitter van SAL, het verlede week saam met ses raadslede, haar bedanking ingedien en ‘n tekort aan ondersteuning van die departement as rede aangevoer.

Die lugredery sal na verwagting volgende week, tydens sy algemene jaarlikse vergadering, ‘n verlies van R1.25 miljard vir die finansiële jaar wat in Maart geëindig het, aankondig.

Die regering het verlede week aangekondig dat ‘n leningswaarborg van ‘n R5 miljard aan SAL toegestaan is. Nuwe raadslede en ‘n nuwe voorsitter sal tydens die algemene jaarlikse vergadering aangekondig word.

“Dit is ‘n verlies vir die maatskappy,” het Guy Leach, lugredery deskundige, gesê.

Mzimela sê sy het lank gedink voordat sy die besluit geneem het. Sy het die direksie vir hul raad bedank en gesê dat sy met sommige van die redes, wat hulle voor hul bedanking aangevoer het, saamstem.

Intussen het Natasha Michael, LP vir die Demokratiese Alliansie, versoek dat Malusi Gigaba, minister van die departement van openbare ondernemings, SAL moet privatiseer in ‘n poging om die lugredery te red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.