SAL-hoof hof toe oor afdanking

Vuyisile Kona Foto: Simphiwe Mbokazi, IOL

Vuyisile Kona, voormalige hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), het ʼn aansoek by die Pretoriase hooggeregshof ingedien om sy afdanking te hersien.

Kona versoek dat die hof die besluit, wat deur Malusi Gigaba, minister van openbare ondernemings geneem is, moet hersien, het Business Day Vrydag berig. Gigaba het glo besluit om Kona af te dank maande nadat hy hom aangestel het om stabiliteit na die staatsbeheerde lugredery te bring. Die hersiening van die besluit kan moontlik daartoe lei dat Kona skadevergoeding kan eis.

Kona is in Februarie geskors nadat die SAL-raad besluit het om aantygings, dat hy die Wet op Openbare Finansies oortree het, te ondersoek. Hy is uiteindelik in Maart afgedank.

Kona se prokureur, Eddie Classen, het aan Business Day gesê die aansoek is verlede maand al by die Pretoriase hooggeregshof ingedien. Kona het sy afdanking teengestaan nadat hy geskors is hangende die uitslag van ʼn ondersoek oor besluite wat hy as hoof uitvoerende beampte geneem het.

Een van Kona se besluite was om Lufthansa Consulting aan te stel om ʼn omdraaistrategie vir die lugredery op te stel.

Tlali Tlali, woordvoerder vir SAL, het aan Business Day gesê die ondersoek na Kona se optrede is afgehandel.

Kona wou nie kommentaar lewer oor sy hofaansoek nie.
-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.