Raskwotas: Veldtog wil SAL se vlerke knip

Dirk Hermann

Die vakbond Solidariteit het ʼn openbare veldtog teen die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) van stapel gestuur nadat dit aan die lig gekom het dat daar ʼn absolute verbod op aansoeke van wit mans vir die lugredery se kadetprogram is.

Solidariteit eis dat die SAL sy kwotastelsel vir kadette onmiddellik laat vaar. Die veldtog se klinkreël is: “SAA: An absolute barrier carrier”.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, het ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om die vakbond se veldtog te ondersteun. “Die veldtog gaan onder meer protesboodskappe aan Siza Mzimela, uitvoerende hoof van die SAL, en Cheryl Carolus, voorsitter van die SAL se direksie, insluit. Solidariteit gaan ook Facebook en Twitter gebruik om openbare steun vir die veldtog te werf,” het Hermann gesê.

Volgens Solidariteit kan enige persoon op die SAL se webblad vir die program aansoek doen, maar wit mans se aansoeke word onmiddellik geweier. “Ons het met twee identiese profiele aansoek gedoen. Die enigste verskil was dat die een persoon ʼn jong wit man met die naam Kosie was en die ander ʼn swart man met die naam Sipho. Kosie het onmiddellik ʼn brief terug ontvang waarvolgens sy aansoek afgekeur is terwyl Sipho se aansoek aanvaar is,” het Hermann gesê.

“Kosie het ʼn brief ontvang waarin hy met spyt in kennis gestel is dat sy aansoek onsuksesvol was. Daar word ook geskryf dat Kosie nie ontmoedig moet word om in die vervolg vir poste by die SAL aansoek te doen nie. Ons beleef hierdie brief as oneerlik. Kosie se ras gaan nie in die toekoms verander nie. Hy sal in die toekoms ook nie welkom wees nie. Die protesboodskap eis dat hierdie kwotastelsel met onmiddellike effek laat vaar word en dat die aansoekproses heropen word sodat alle Suid-Afrikaners ʼn geleentheid kan kry om aansoek te doen,” het Hermann bygevoeg.

Kabelo Ledwaba, die SAL se woordvoerder, het aan Beeld gesê die kadetprogram is geadverteer as ’n inisiatief om sy vlieëniers se demografie in pas met dié van die land te bring. “Slegs 15% van die SAL se vlieëniers is tans swart – wat bruines en Indiërs insluit. Die res is wit. Boonop is 91% van hulle mans. Die lugdiens sal wit, manlike vlieëniers aanstel wanneer daar vakante poste is waarvoor daar nie anderskleurige kandidate gevind kan word nie,” het Ledwaba aan die dagblad gesê.

Die publiek kan protesbriewe oor SAL-kwotas deur middel van die webblad, www.stopkwotas.co.za, aan die SAL stuur. ʼn Ander manier om protes aan te teken, is deur die woord “Kwota” na 34388 te SMS. ʼn SMS kos R2 en sal ook by die protesboodskappe getel word. Die veldtog kan ook op Twitter gevolg word by #StopSAA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.