SAL moet kadetprogram eers uitstel of wit mans daarin opneem

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) vandag skriftelik versoek om sy kadetprogram voorlopig uit te stel terwyl dit deur die Menseregtekommissie (MRK) ondersoek word, of te verseker dat wit mans in die program opgeneem word. Aansoeke vir volgende jaar se kadetprogram sluit vandag.

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê die SAL is versoek om die afhandeling van sy 2014-inname vir die kadetprogram uit te stel totdat die MRK uitspraak in die saak gelewer het. “As alternatief is die SAL versoek om skriftelik te bevestig dat wit mans, indien hulle aan die minimum kriteria voldoen, ingesluit sal word by die suksesvolle kandidate.”

Groenewald sê die MRK het vroeër die maand bevestig dat hy die SAL se kadetprogram ondersoek nadat die lugredery geen wit manlike kandidate in sy kadetprogram opgeneem het nie. Die vakbond het die MRK gevra om die saak namens tien wit mans, wat vir die kadetprogram aansoek gedoen het maar weens hul velkleur nie suksesvol was nie, te ondersoek. “Hierdie tien kandidate se reg op gelykheid, waardigheid en vryheid van handel en professie is deur die SAL geskend aangesien hul aansoeke oorweeg sou word as dit nie vir hul ras was nie.”

Die SAL het vanjaar 40 kandidate in sy kadetprogram opgeneem. Dié groep bestaan uit tien swart mans, vier swart vroue, nege bruin mans, een bruin vrou, sewe Indiër mans, twee Indiër vroue en sewe wit vroue.

Solidariteit moedig die publiek aan om voort te gaan om die veldtog teen “ras-tellende” aksie te ondersteun deur www.stopkwotas.co.za te besoek en ʼn petisie in te vul, of deur die woorde “Stop Ras” na 34388 te stuur. ʼn SMS kos R2 en elke SMS sal ook as ’n petisie getel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

hentie engelbrecht ·

Verwyder ook sommer daardie lede wat die wittes afgekeur het uit hulle poste – summier!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.