Tlali Tlali, woordvoerder van SAL, sê die lugredery sal sy volle samewerking aan die owerhede in die VSA gee om te verseker dat daar ʼn deeglike ondersoek gedoen word na die voorval. Die man se liggaam is in die vliegtuig se wielkompartement gevind nadat dit by die Dulles-lughawe in Washington geland het. Tlali sê vlug SA207 het Woensdag van Johannesburg na Washington gevlieg via Dakar, Senegal. Hy sê nadat die vliegtuig geland het, is daar besef dat daar iets fout was met die vliegtuig se onderstel. “Dit het daartoe gelei dat SAL ingenieurs en tegnici na die VSA ontbied het om die oorsaak vas te stel en die fout op die vliegtuig reg te maak. Gedurende die proses om toetse te doen het SAL-ingenieurs op die liggaam in die wielkompartement afgekom.” Die man se identiteit en nasionaliteit is nog nie vasgestel nie.
In Augustus 2012 het ʼn man oor die heining by die Kaapstadse-lughawe geklim en in die wielkompartement van ʼn British Ariways-vliegtuig geklim. Die man se liggaam is gevind nadat die vliegtuig in Londen geland het die volgende oggend. Dokters vermoed dat hy van die koue omgekom het.