SAL-verbod op wit studente vir kadetprogram opgehef

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het in ʼn prokureursbrief aan die vakbond Solidariteit bekend gemaak dat hy sy verbod op aansoeke van wit manlike studente vir sy omstrede kadetprogram gaan ophef.

Dit volg enkele ure nadat Solidariteit met ʼn regsaksie namens drie jong, wit aansoekers teen die SAL begin het. Die vakbond het ook Vrydag ʼn groot openbare protesveldtog teen die SAL van stapel gestuur. Solidariteit se aksie het gevolg nadat dit bekend geword het dat wit aansoekers se aansoeke vir die SAL se kadetprogram op die lugredery se webblad onmiddellik geweier is, terwyl swart aansoekers met dieselfde profiel se aansoeke aanvaar is.

“Hierdie absolute verbod op aanstellings van wittes is teen die letter en gees van die Suid-Afrikaanse Grondwet,” het Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit gesê.

Om Solidariteit se hofaksie af te weer, het die SAL die vakbond skriftelik meegedeel dat die sluitingsdatum vir aansoeke vir die kadetprogram tot einde Augustus uitgestel is, en dat die aansoekvorm op sy webtuiste aangepas is sodat wit mans ook die geleentheid sal hê om aansoek te doen.

Solidariteit het in sy regsbrief geëis dat die SAL sy kwotastelsel vir kadette met onmiddellike inwerkingtreding laat vaar en dat die aansoekproses heropen word. Intussen is lede van die publiek gevra om protesboodskappe aan Siza Mzimela, uitvoerende hoof van die SAL en Cheryl Carolus, voorsitter van die SAL se direksie, deur Solidariteit se proteswebblad, www.stopkwotas.co.za, te stuur as deel van ʼn openbare veldtog teen die SAL.

Volgens Hermann wys die sukses van die Stop SAL-veldtog dat Suid-Afrikaners hul stemme op ʼn effektiewe manier kan laat hoor.

In hierdie geval het Solidariteit namens Pierre de Klerk (19), Armand Moolman (21) en Jan-Paul Nel (20) opgetree, wat al drie vir die program aansoek gedoen het, maar toegang op grond van hul verkleur geweier is. Volgens Hermann het De Klerk, Moolman en Nel aan al die nodige vereistes voldoen, maar hul aansoeke is onmiddellik geweier bloot omdat hulle wit is. “De Klerk het matriek geslaag met ʼn B-simbool vir wiskunde en wetenskap in die hoër graad en ʼn A-simbool vir Engels in die hoër graad. Moolman en Nel voldoen ook aan al die kwalifikasies en beskik reeds oor private vlieglisensies (PPL).”

Al drie het binne minute nadat hul aansoeke ingedien is ʼn brief ontvang waarin hulle “met spyt” in kennis gestel is dat hul aansoeke onsuksesvol was. Die brief lui voorts dat hulle nie ontmoedig moet voel om in die toekoms vir poste by die SAL aansoek te doen nie.

Klik hier om Solidariteit se aanmaning aan die SAL en hul antwoord daarop te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.