Sanders-moord: Verdagte ook van plaasmoord aangekla

Een van die mans wat verdink word van die moord op die bokslegende Corrie Sanders word ook van ʼn plaasmoord in die Brits-omgewing aangekla.

Paida Fish (19), Chris Moyo (25) en Samuel Mabena (27) het gister in die Brits-landdroshof verskyn. Beeld berig dat die drie Zimbabwiërs tereg staan op een aanklag van moord en 48 van roof met verswarende omstandighede. Mabena is tydens die verskyning meegedeel dat hy ook aangekla word van die moord op Mauritz Oberholzer (66). Hy en sy vrou is op 5 September deur vier mans op hul hoewe buite Brits oorval. Oberholzer is geskiet en met een van sy eie grawe doodgeslaan. Fish word ook moontlik met ander rooftogte in Thabazimbi en Brits verbind. Die drie mans verskyn weer volgende week in die hof.

Fish, Moyo en Mabena is op 27 September in Oukasie buite Brits in hegtenis geneem. Die drie mans het glo op 22 September by Thatch Haven Country Lodge ingestorm en op klante begin losbrand. Sanders was by die Lodge om sy broerskind se 21ste verjaarsdag te vier en is deur die rowers in die maag en hand geskiet. Hy het die volgende oggend aan sy beserings beswyk. Die polisie het ‘n selfoon, motorsleutels, ʼn beursie, ʼn handsak en kontant wat tydens die rooftog gesteel is in die mans se besit gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.