Sanders tot ruste gelê

Foto: Barry Bateman/EWN

Honderde mense het vandag by die NG kerk Wonderpark in Akasia byeengekom om eer aan Corrie Sanders te betoon.

Die 46-jarige voormalige swaargewigbokskampioen was verlede Saterdagaand by die Thatch Haven Country Lodge in Brits om sy broerskind, Michael Sanders, se 21ste verjaardagpartytjie te vier, toe rowers opgedaag en lukraak begin skiet het. Die rowers het klante by die restaurant van hul persoonlike besittings beroof. Sanders is tydens die voorval in die maag en hand geskiet en het Sondagoggend in die Kalafong-hospitaal aan sy beserings beswyk.

Tydens die erediens is skyfies van Sanders op ʼn projekter gewys terwyl die liedjie “You Raise Me Up” gespeel het. Sy ma, Alida, broer, Mike, en ander familielede was baie emosioneel toe die diens begin het. Sanders se vriend, die sanger Kurt Darren, het tydens die diens ʼn spesiale liedjie aan hom opgedra.

Die drie mans wat van Sanders se moord verdink word, het vandag in die Brits-landdroshof verskyn. Die drie Zimbabwiese burgers is Donderdag in Oukasie naby Brits in hegtenis geneem. Paida Fish (19), Samuel Mabena (27) en Chris Moyo (25) word aangekla van moord en gewapende roof. Die saak is tot 8 Oktober vir verdere ondersoek uitgestel. Die mans gaan in aanhouding bly tot dan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.