SANEF bekommerd oor polisie-intimidasie

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het sy kommer uitgespreek oor ʼn onbeplande besoek deur die polisie aan die kantore van The Star in Johannesburg vandeesweek.

Maroela Media het Donderdag berig polisiebeamptes van die Hillbrow-polisiestasie het Woensdag by The Star se kantore opgedaag nadat Pikitup, die maatskappy wat deur die Johannesburgse munisipaliteit gekontrakteer word om die stad se vullis te verwyder, ʼn klagte van diefstal teen die koerant gelê het. Lees meer hier.

“Gedurende die beamptes se besoek is Makhudu Sefara, die redakteur, gevra om ʼn waarskuwingsbrief aan die polisie te verskaf oor die koerant se “bakleiery met Pikitup’,” het Sanef in ʼn verklaring gesê.

“Sefara het volgens sy reg opgetree en geweier om saam te werk, en het die beamptes na die koerant se prokureurs verwys.”

Die koerant berig al ʼn geruime tyd oor beweerde korrupsie en bedrog binne Pikitup. Die berigte is gebaseer op ‘n vertroulike verslag wat deur die koerant se verslaggewers bekom is.

Die Sunday Times het verlede week ook ʼn onbeplande besoek van die polisie gehad. Die koerant het sy prokureur ontbied en die beamptes is kort daarna, na ‘n “robuuste gesprek”, daar weg.

“Personeel by die Sunday Times het die besoek as intimiderend en onvanpas beskryf.”

“Die polisie het die Maandag daarna teruggekeer nadat hulle ʼn afspraak gemaak het, waarna die Sunday Times verklaar het hulle het hul inligting wettig bekom en dat hulle dit nie gaan oorhandig nie.”

Sanef het gesê dit is Pikitup se konstitusionele reg om wettige stappe te neem indien hulle voel hulle is ‘n onreg aangedoen. “Dit is egter ook die publiek se reg om te weet of belastingbetalers se geld deur Pikitup verduister word. Dit is die media se plig en reg om wanbesteding aan die lig te bring.”

Volgens Sanef kan die polisie nie net bloot by ʼn koerant se kantoor instap en verklarings van joernaliste verwag, sonder dat die polisie die redakteur oor die aanklagte ingelig het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.