Sanef soek antwoorde ná redakteur se afdanking

Alide Dasnois

Alide Dasnois

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het Maandag versoek dat die rede vir Alide Dasnois, redakteur van die Cape Times, se afdanking dringend bekend gemaak moet word. Die Cape Times word deur Independent Newspapers besit en uitgegee.

“Aangesien die Cape Times of Sekunjalo Holdings, die nuwe eienaar van die Independent Newspapers, nie ‘n verklaring uitgereik het om te verduidelik waarom Dasnois skielik afgedank is, is Sanef bekommerd dat dit dalk verband hou met ʼn storie wat die koerant Vrydag gepubliseer het,” het Sanef gesê.

Die Mail & Guardian het Sondag berig Dasnois is Vrydag van haar afdanking in kennis gestel kort nadat die koerant berig het oor Thuli Madonsela, openbare beskermer OB, se bevindings teen Tina Joemat-Pettersson, die minister van landbou, bosbou en visserye. Madonsela het bevind dat Joemat-Pettersson skuldig is aan wanadministrasie en onbehoorlike en onetiese gedrag rakende die toeken van ʼn tender van R800 miljoen aan Sekunjalo Marine Consortium vir die bestuur en onderhoud van die departement se vloot van agt vaartuie.

Sekenjalo het ná die artikel verskyn het, ʼn prokureursbrief aan die Cape Times gestuur wat beweer dat die berig onakkuraat is. Die brief het ook gedreig om die koerant, die redakteur en die joernalis te dagvaar vir skade.

Sanef het gesê hy is “geskok” en “bekommerd” oor die situasie.

“Sanef veroordeel enige inmenging met die onafhanklikheid van redakteurs en joernaliste met die uitvoering van hul pligte. Ons versoek Sekunjalo Holdings om die kwessies wat verband hou met Dasnois se skielike ontslag sonder versuim te verduidelik. Ons versoek die maatskappy ook om hom te weerhou om dreigemente teen personeellede te maak.”

Independent Newspapers was nie beskikbaar vir kommentaar nie. Dasnois het aan die Mail & Guardian gesê sy is besig om regsadvies in te win.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jasper ·

Die koerantbase wil nie hê almal moet weet hoe diep was hul vingers in n korrupte “pie ” gedruk nie.
Ons land gaan nie gou weer uit hierdie stinkende korrupsie moeras uitkom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.