Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het die beweerde aanranding van ʼn Beeld-fotograaf ten sterkste veroordeel.
Volgens Beeld is Craig Nieuwenhuizen Dinsdagoggend deur ‘n groep veiligheidswagte by ‘n gebou van Unisa aangerand terwyl hy ‘n verslaggewer vergesel het wat ondersoek wou instel na klagtes oor die lugreëling en slegte reuk in die gebou. Sanef het in ʼn verklaring gesê hy hoop daar sal ʼn klagte by die polisie ingedien word in die lig van toenemende vyandigheid en aanvalle op joernaliste. ʼn Woordvoerder van Unisa, Doreen Gough, sê die Universiteit het ʼn ondersoek van stapel gestuur na die beweerde voorval. Beeld berig ‘n veiligheidswag wou die onderwysberiggewer, Alet Rademeyer en Nieuwenhuizen, nie toegang tot die Eskia Mphahlele-gebou gee nie. Daar het later glo ʼn woordewisseling tussen Nieuwenhuizen en die veiligheidswagte ontstaan waarna hulle hom glo aan die keel gegryp en op die grond neergegooi het.