SA’ner in Korea dood weens seldsame siekte

Yvette Pienaar. Foto: Facebook

Yvette Pienaar, ʼn 26-jarige Suid-Afrikaner wat al vir ʼn geruime tyd in Gumi in Korea bly, word Donderdag in Gumi begrawe nadat sy vir bykans ʼn maand lank vir ʼn seldsame siekte behandel is.

ʼn Spesiale Facebook-blad is gestig om te help met fondse nadat sy vir die eerste keer op 8 Julie in ʼn hospitaal in Daegu opgeneem is. Dokters het aanvanklik gedink sy het ʼn psigotiese ineenstorting gehad, maar het agtergekom sy reageer nie op die medikasie nie en het besef sy is verkeerd gediagnoseer.

Pienaar, wat saam met haar vriend van 10 jaar, James van den Heever gebly het, is vir sowat twee weke lank in verskeie hospitale onder verdowing gehou en behandel, en is uiteindelik na die Seoel Nasionale Universiteitshospitaal oorgeplaas waar daar bevind is dat sy breinvliesontsteking en ʼn onderliggende siekte onder lede het. Sy het op 15 Junie aanvalle begin kry en verdere toetse het getoon dat die onderliggende siekte ‘n seldsame neurologiese siekte is.

Die siekte (Anti-NMDA receptor encephalitis) is vir die eerste keer in 2007 identifiseer en beïnvloed veral jong vroue. Simptome sluit in aanvalle, paranoia, duiseligheid en persoonlikheidsveranderinge. Dit vermom hom dikwels as ander siektes, en word gevolglik gewoonlik misdiagnoseer.

Pienaar se ma en pa, James en Marinda, het tydens haar behandeling saam met Van den Heever se ouers na Korea gevlieg om haar by te staan. Hulle het Dinsdag op Facebook bekend gemaak dat sy haar lang stryd teen die siekte verloor het. “Dit is met groot hartseer dat ons moet bekend maak dat ons geliefde Yvette oorlede is. Sy was ʼn ongelooflike mens en sal vir altyd gemis word. Baie dankie vir almal se gebede en ondersteuning,” het hulle gesê.

Haar broer, Corne, het geskryf: “Mag jy in vrede rus, ek sal altyd vir jou lief wees en jy sal vir altyd in my hart wees. Ek was geseënd om jou vir 26 jaar in my lewe te kon hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

James van den Heever ·

Yvette se liggaam gaan terug Suid Afrika toe. Sy word nie in Gumi begrawe nie.

Derrick Smith ·

Daar is ‘n klein gedenkte diens in Gumi more, Donderdag, Augustus 8, voordat Yvette, James en haar ouers terugvlieg Suid Afrika toe. Geen begrafnis reëlings is nog gereël nie.

Sonja Joubert ·

Rest in peace Yvette. Sterkte Andre, Marinda, Corne en James xxx

suzette otto ·

Ons innige meegevoel aan Yvette se ouers broer, James en sy ouers. Ons gebede is met julle in hierdie swaar tydperk. Yvette RIP.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.