‘n Suid-Afrikaner is uit Algerië gered ná ‘n terreuraanval by die Tigantourine-gasaanleg.
“Ons het bevestiging ontvang dat ‘n Suid-Afrikaanse burger, wat deur die Algereense weermag gered is, Maandag veilig in Suid-Afrika aangekom het,” het Ebrahim Ebrahim, adjunkminister van internasionale betrekkinge, gesê.
“Die Suid-Afrikaanse regering het die terreuraanval op 16 Januarie skerp gekritiseer en betoon sy meegevoel met die families van die slagoffers.”
Geen verdere inligting is oor die Suid-Afrikaner gegee nie. Dit is ook nie bekend of hy as gyselaar aangehou is nie.
Gewapende Islamiste het verlede week Woensdag ‘n bus vol ingenieurs, wat by ‘n gasaanleg werk, aangeval. Twee mense is dood en 41 uitlanders is gyselaar geneem. Die Islamiste is toe na die Tigantourine-gasaanleg, wat gesamentlik deur BP, Statoil en Sonatrach bestuur word, en het dosyne mense gyselaar geneem.
BP in Brittanje het gesê owerhede is steeds op soek na vyf vermiste uitlanders en probeer sewe verkoolde lyke uitken. Ebrahim sê Suid-Afrika ondersteun steeds die wêreldwye stryd teen terrorisme.