SA’ners maak te veel foute in die Super 15

Vir die Stormers is dit nou neusie verby wat vanjaar se Super 15 betref. Hulle kan nie meer hulle eie heil uitwerk nie en is nou afhanklik van ander spanne om die uitspeelrondtes te haal. Dit is beslis nie die ideale situasie nie.

Hulle het aan die einde van verlede jaar gewys dat hulle vanjaar sterk aanspraak op die Super 15-titel kan maak.

Waar lê die fout dan?

Eerstens dink ek dat die Stormers te veel klem lê op goeie verdediging. Goeie verdediging het wel titels in die verlede gewen, maar jy moet ook met gereelde reëlmaat drieë kan druk. Die leemte dié jaar was dat die veelgeroemde agterlyn van die Stormers verleer het hoe om die bal lug te gee en drieë te druk.

Het daar stagnasie in die afrigtingskorps ingetree? Baie beslis sal daar aandag gegee moet word aan die wedstrydbeplanning voordat die Stormers weer hulle regmatige plek in die Super 15-kompetisie kan inneem.

Die Stormers het die ander Suid-Afrikaanse spanne ʼn guns bewys deur die Reds met 20-15 te wen en ja, vir die Stormers het Jean de Villiers ʼn mooi drie gedruk.

Die Bulle daarenteen het hulle aanvallende vermoë uitgebrei en, tesame met hul reeds goeie vaste fasette (alhoewel die skrums maar sukkel), gewys dat hulle verdien om in hierdie stadium die voorlopers van die Suid-Afrikaanse been te wees. Hulle het ook een wedstryd minder gespeel as die ander twee wat in die top drie lê.

Die rillerwedstryd van die komende naweek is die een tussen die Cheetahs en die Bulle in Bloemfontein. Ek vermoed dat die pawiljoene vol sal wees en dat dit ʼn naelbytlekkerwedstryd gaan wees.

Die Stormers behoort te sterk te wees vir die Kings op Nuweland, maar mag nie die wedstryd lig opneem nie. Daarvoor was die Kings vir 50 minute lank teen die Cheetahs net té goed.

Die Brumbies wat die Blues op laasgenoemde se tuisveld met 20-13 verslaan het, behoort op hulle tuisveld maklik met die Hurricanes af te reken.

Die Bulls-ondersteuners kan seker juig oor die oorwinning oor die Sharks in Duban, maar die rugby wat die twee spanne opgedis het, was van die swakste vir die naweek. Blykbaar was die humiditeit hoog en die bal seepglad, maar daar is net te veel hanteerfoute deur albei spanne begaan.

Die Bulle sal die week baie aandag aan hulle vaste skrums moet gee, want dít is waar die Cheetahs hulle gaan teiken.

Rugbygroete uit die Bosveld

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.