Sanger beboet vir polisieuniform

Mkhonzeni “Professor” Langa. Foto: mio.co.za

Die kwaito-sanger wat in Februarie by die Metro Music-toekennings in Durban in ʼn metropolisieuniform opgedaag het, is met R3 000 beboet.

The Star het Dinsdag berig Mkhonzenie “Professor” Langa is Maandag in die Durbanse landroshof dié boete, of een maand tronkstraf, opgelê.
Langa het Maandag skuldig gepleit op aanklagte dat hy homself as ʼn polisiebeampte voorgedoen het, dat hy onwettig in besit was van ʼn polisieuniform en dat hy ʼn polisieuniform sonder toestemming gedra het.

Staatsaanklaer Desiree Bojang het gesê die aanklag is ernstig, want dit word ʼn tendens vir kriminele om hulself as polisiebeamptes voor te doen.
Volgens landdros A. Singh is dit duidelik dat Langa nie ʼn kriminele misdryf wou pleeg toe hy die uniform gedra het nie. “Hy het verantwoording vir sy daad geneem en ook skuldig gepleit en het nie die hof se tyd gemors nie,” het hy gesê.

Langa het op 28 Februarie vir die eerste keer in die hof verskyn nadat hy homself na die voorval aan die polisie oorgegee het. Die saak is toe onbepaald uitgestel vir verdere ondersoek.

– Sapa

Lees ook:
Sanger gaan vervolg word oor polisieuniform
Sanger in hof oor polisieuniform
Sanger in sop oor polisieuniform

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.