Sanger wat bejaarde doodry se naam bekend

ʼn Dagblad het vandag die naam bekend gemaak van ʼn Suid-Afrikaanse sanger wat moontlik vir strafbare manslag ondersoek gaan word nadat sy verlede week ʼn bejaarde voetganger raakgery het. Volgens die Cape Times is sy die jazz- en Afro-popsanger, Judith Sephuma.

Maroela Media het vroeër vandag berig Sephuma het verlede Maandag ‘n 79-jarige vrou in Soweto omgery terwyl dié glo die straat probeer oorsteek het. Ao. Kay Makhubela, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het aanvanklik ʼn saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek, maar dit is na ʼn saak van strafbare manslag verander nadat die slagoffer in die hospitaal oorlede is. “Sodra die ondersoek afgehandel is, sal die saak na ʼn hof geneem word om te besluit of die Sephuma vervolg gaan word.”

Makhubela sê die polisie wag steeds op die uitslae van die nadoodse ondersoek sowel as verslae van getuies en die spoed waarteen Sephuma gery het. Die polisie wou aanvanklik nie die sanger se identiteit bekend maak nie omdat hulle nog nie besluit het of sy vervolg gaan word nie of alvorens sy in die hof verskyn het nie.

Sephuma het al twee albums, A Cry, A Smile, A Dance en New Beginnings, bekend gestel. Volgens die dagblad het die polisie die naam aan hulle bevestig. Bespiegelings dat Judith die sanger is, het ook volop op Twitter voorgekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.