Sangoma gevang ná hy glo albino opgrawe

ʼn 54-jarige Sangoma en ʼn helper is in hegtenis geneem nadat hulle glo Vrydag in die vroeë oggendure ʼn albino se oorskot opgegrawe het.

Die polisie van Mmabatho, in Noordwes, het die twee verdagtes omstreeks 02:30 in die Moletsamongwe-begraafplaas van die Modimola-nedersetting betrap.

“Polisiebeamptes het die omgewing gepatrolleer toe hulle die twee mans met ʼn sak die begraafplaas sien verlaat,” het Amanda Funani, ʼn polisiewoordvoerder, gesê.

“Die sak is deursoek en menslike oorskot is daarin gevind. Dit was glo die oorskot van ʼn albino wat in 2002 begrawe is. Volgens ons inligting was dit nie die eerste keer wat die persoon se graf geskend is nie. Daar is verlede jaar ook met die graf gepeuter, maar niemand was in verband met die voorval in hegtenis geneem nie,” het Funani gesê.

Die polisie ondersoek of die twee gevalle verbind kan word. ʼn Saak van grafskending is oopgemaak. Die verdagtes moet Maandag in die Mmabatho-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.