Sangoma in sop oor troue met 13-jarige

ʼn Sangoma van Limpopo is in hegtenis geneem nadat hy met ʼn 13-jarige meisie getrou het.

The Sowetan het Donderdag berig ʼn 57-jarige sangoma het met ʼn 13-jarige meisie in Modimolle getrou. Die meisie kry epileptiese toevalle en hy het glo met haar getrou sodat hy “haar moeilikheid met haar voorvaders” kan dophou.

Die kind se ma sê die sangoma het haar dogter vir twee jaar behandel en van epilepsie genees. Hy het toe vir haar gesê die kind se voorvaders teister haar en dat sy gemonitor moet word. Hy het toe aangebied om met haar te trou.

“Ons het nie ʼn ander keuse gehad as om in te stem nie, want ons wou hê dat sy gesond bly,” het die ma aan die dagblad gesê. Sy het ook R5 000 lobola vir haar dogter aanvaar.

Die sangoma is op 23 Januarie in hegtenis geneem nadat ʼn inwoner die “verhouding” by sosiale werkers aangemeld het.

“Sulke dinge mag nie geduld word nie. Kinders het ʼn reg tot opvoeding en ʼn stabiele en veilige omgewing,” het Phumla Williams, ʼn woordvoerder van die regering, gesê.

“Die regering is bly dat die nasionale vervolgingsgesag die voorval ondersoek en glo dit sal die nodige aandag kry en as ʼn prioriteit beskou word,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.