Die toordokter, wat saam met sy helper daarvan verdink word dat hulle Vrydagoggend die oorskot van ʼn albino opgegrawe het, is Maandag op borg van R1 000 vrygelaat.
Maroela Media het vroeër berig die 54-jarige sangoma en sy 39-jarige helper is in hegtenis geneem nadat hulle glo in die vroeë oggendure ʼn albino se oorskot opgegrawe het. Die twee verdagtes is omstreeks 02:30 in die Moletsamongwe-begraafplaas van die Modimola-nedersetting in Noordwes betrap. Hulle het ʼn sak by hulle gedra wat glo die oorskot van Sipho Lolwane (54) bevat het.
Die sangoma, Koketso Jabane, en die helper, Rapelang Modise, het Maandag in die landdroshof in Mmabatho verskyn. Albei is borg van R1 000 toegestaan.
ʼn Saak van grafskending word ondersoek. Die verdagtes moet weer 7 Desember in die hof verskyn.