SANparke: ‘Wildtuin herstel na vloedskade’

Die foto is by die Biyamiti-kamp geneem. Foto: SANparke

Die Suid-Afrikaanse ­Nasionale Parke-owerheid (SANparke) sê 80 persent van die Krugerwildtuin is weer in werking na vloede vroeër die week.

“ʼn Paar tente is beskadig maar ons fasiliteite het die vloed deurstaan,” het SANparke se uitvoerende hoof David Mabunda gesê. Waterpompe en pyplyne langs die rivieroewers is tydens die vloede beskadig maar is reeds besig om herstel te word. Mabunda sê niemand is tydens die vloede dood of beseer nie. Ses toeriste se motor is egter deur die vloedwater meegesleur naby Hamilton. Die twee Italianers en vier Britte is na ʼn dokter in Skukuza geneem vir behandeling. In die noorde van die wildtuin is 26 mense steeds van die buitewêreld afgesny en word hulle deur parkbewaarders na veiligheid gelei. Intussen is 22 mense steeds by die Biyamiti-kamp vasgekeer. Talle besoekers wat in hulle motors vasgekeer was is teen Donderdagoggend gered. Mabunda sê dit wou voorkom asof die diere bewus was van die naderende gevaar en na hoër grond gevlug het.

Intussen is talle kampe en paaie ook toeganklik. Krokodilbrug, Laer Sabie, Berg en Dal, Letaba , Olifants, Shimuwini, Orpen, Sirhini en alle ander kampe in die noorde van die wildtuin is weer heropen en toeganklik. Die Tshokwane-piekniekarea is steeds gesluit weens vloedskade. Intussen is gaste en personeel by Balule ontruim. Talamti, Biyamiti, Tamboti en Maroela is steeds gesluit. Die Olifants t-aansluiting na Olifants by H8 is steeds gesluit. Die Krokodilbrug-hek en Giryondo-grenspos is ook steeds gesluit weens vloedskade. Skukuza na die Krugerhek en Phabeni is ook gesluit. Alle grondpaaie suid van die Letaba-rivier is steeds gesluit. SANparke het intussen gesê dat geen dagbesoekers nog in die wildtuin toegelaat word nie.

Lt.kol. Piet Paxton, weermagwoordvoerder, het vroeër Donderdag aan Maroela Media gesê dat ʼn verdere 26 mense reeds vandag uit die Hoedspruit-omgewing ontruim is. Minstens 153 mense is gistermiddag uit die Hoedspruit-omgewing ontruim terwyl 53 mense uit Bosbokrand ontruim is.

Het jy al na die foto’s van die vloede gekyk? Klik hier

Het jy al na die video’s van die vloede gekyk? Klik hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.