Sanral breek stilswye

Die Nasionale Padagentskap (Sanral) het vandag vir die eerste keer hul vier-dae stilswye gebreek nadat die hooggeregshof Saterdag ʼn dringende interdik teen die implementering van die omstrede e-tolstelsel toegestaan het.

“Sanral en die departement van vervoer neem kennis van die bevinding van die hooggeregshof,” het Felix Sebata, Sanral se woordvoerder, in ʼn verklaring gesê.

“Ons respekteer die bevindinge en gaan dit bestudeer alvorens ons verdere stappe oorweeg in konsultasie met ons hoofde.”

Hy het verder gesê Sanral is ʼn agentskap van die departement van vervoer en moet daarvolgens hul beleid implementeer en wag hulle vir leiding van dié departement.

“Die agentskap kan nie verder op die onderwerp kommentaar lewer nie en die departement van vervoer moet genader word vir enige verdere navrae,” het hy afgesluit.

Die departement was teen Woensdagmiddag nie vir kommentaar beskikbaar nie. Hulle het wel na die uitspraak gesê dat hulle die bevinding notuleer.

“Ons respekteer die besluit. Ons gaan die bevinding deeglik bestudeer voor ons gaan besluit wat ons volgende stappe is,” het Tiyani Rikhotso, die departement se woordvoerder, Saterdag gesê.

–   Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.