Sanral en minister erken e-tolprobleme

Argieffoto

Argieffoto

Dipuo Peters, die minister van vervoer, het Dinsdag Sanral beveel om faktuurprobleme wat met die e-tolstelsel in Gauteng verband hou, te korrigeer.

Peters het aan die parlement se portefeuljekomitee oor vervoer erken dat daar ʼn paar probleme was met die elektroniese tolstelsel. Talle padgebruikers in die provinsie het gekla oor fakture en registrasie. “Padgebruikers moet opgelei word oor hoe die stelsel werk en watter metodes beskikbaar is om te registreer of te betaal,” het Peters gesê. “My opdrag aan Sanral is duidelik: hulle moet die faktuurprobleme dadelik uitsorteer.”

Peters en die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het egter gesê dit is nie alles slegte nuus nie. “Duplikaat en gekloonde nommerplate, ongeregistreerde voertuie en voertuie sonder nommerplate is danksy die stelsel geïdentifiseer,” het Peters bygevoeg.

Sy het ʼn beroep gedoen op alle LPs om te registreer, aangesien hulle die eerste mense moet wees wat aan die wet voldoen. Ian Ollis, DA-LP, het gesê hy gaan nie registreer nie, en Peters het hom daaroor aangespreek. “Ek kan nie glo jy sê dit in die publiek nie, en jy het ʼn eed afgelê om die Grondwet te onderhou,” het Peters gesê.

Sy het egter toegegee toe Ollis sy optrede verduidelik het. “Die wet vereis nie van enigiemand om ʼn e-tolskyfie aan te skaf nie. Suid-Afrikaners kan besluit of hulle een wil koop of nie, en dan gaan hulle ʼn faktuur ontvang,” het Ollis gesê. Hy sê hy wil slegs toets of die stelsel werk. Hy het sy faktuur op 3 Februarie ontvang, en Peters het later gesê dit is ʼn bewys dat die stelsel werk.

Nazir Alli, hoof uitvoerende beampte van Sanral, het gesê daar is probleme wanneer gebruikers elektroniese oorbetalings wil doen. “Mens dink jy het ʼn betaling gedoen. Maar dit kan enigiets tussen twee tot vyf dae lank duur voordat die oorbetaling in die ontvanger se rekening reflekteer,” het Alli gesê. Hy sê die geld lê dus “iewers in die kuberruim”. Hy sê hy het met die banke dié probleem bespreek. “Wie kry daardie rente? Niemand gee vir ons ʼn antwoord nie,” het Alli bygevoeg.

Volgens Alli het hulle reeds 85% van klagtes, wat by Sanral aangemeld is, opgelos. “Die tolstelsel is stabiel.” -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eben ·

Ai ai ek dink as die regering ooit gedink het daar gaan soveel probleme en teenstand wees sou hulle dit moontlik heroorweeg het om die stelsel daar te stel. Maar dit verhinder my nie oor die volgende : … en jy het ʼn eed afgelê om die Grondwet te onderhou” uit Auntie Peters se mond. Die vraag is, doen almal dit? Eerbiedig hulle die grondwet? Kom ons begin by zumie en sy zumaville ……

Die vraag is, gaan Ian Ollis nou n skuifie koop of nie? Die faktuur en stelsel werk mos? Gie gie gie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.