Sanral ontken Aarto het misluk

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het Woensdag gesê die DA se bewering dat die Aarto-stelsel misluk het, is misleidend.

“Sanral is ontsteld oor die Demokratiese Alliansie se standpunt,” het Vusi Mona, woordvoerder van Sanral, in ‘n verklaring gesê.

Die DA het Woensdag gesê dat ‘n verslag deur die Parlement se taakspan oor die Wet op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe (Aarto) aangetoon het dat 89.56% van die vereiste betalings tussen die 2012/2013-finansiële jaar nie deur padgebruikers betaal is nie. Mmusi Maimane, nasionale woordvoerder van die DA, het gesê die totale bedrag oor die twee jaar wat nie betaal is nie, is R2 miljard. “Die 50%-afslag wat geld vir betalings wat binne 32 dae gedoen word, word heeltemal geïgnoreer en mense verkies eenvoudig om nie te betaal nie,” het Maimane gesê.

Hy sê die uitstuur van briewe om mense te herinner om te betaal is in Julie 2012 gestaak weens ‘n tekort aan fondse. “Die totale bedrag oor die twee jaar vir die uitstuur van dié briewe was meer as R30 miljoen.” Maimane sê ‘n stelsel soortgelyk aan die een wat motoriste aan hul verkeersboetes herinner, sal gebruik word wanneer motoriste nie hul e-tolgeld betaal nie.

Mona het dít egter ontken. Hy sê die invordering en wetstoepassing van boetes wanneer e-tol nie betaal word nie, word nie deur die Aarto-wet gereguleer nie, maar deur die Strafproseswet (CPA). “Die feit bly staan dat ons tolgeld gaan hef deur die CPA as ‘n wetgewende raamwerk te gebruik,” het Mona gesê. “Ons het ‘n proses in plek gestel wat ons sal help om die nie-nakoming van e-tol te bestuur. Sodra ons dié proses uitgeput het sal ‘n dagvaardiging onder die CPA uitgereik word.” Hy sê Sanral is ook van voornemens om mobiele eenhede by opritte en op tolpaaie te installeer wat deur verkeersbeamptes beman sal word en uitstaande boetes sal nagaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarie van Niekerk ·

Hoe kan Sanral ontken dat Aarto misluk het???
As dit nie misluk het nie hoekom is dit dan al langer as vyf jaar in slegs twee gebiede nog steeds op ‘n proefbasis? Hoekom moet daar kort-kort miljoene rande terugbetaal of afgeskryf word aan motoriste omdat daar probleme was met die uitreiking van die dokumente. Omdat die dokumente nie op die regte wyse volgens wet uitgestuur is nie?
Skrik wakker Sanral ons is nie almal ‘n klomp ape wat niks tussen die ore het nie!!!

Willy ·

Wel as hy nie misluk het nie sal hy want ek en menigte gaan nie registreer nie.

Sarie van Niekerk ·

Die stelsel wat hulle ontwikkel het vir die invordering van e-tol klink vir my na nog een van Sanral se lee simbale wat net lawaai maak en niks verder. Die ironie van alles is dat Suid-Afrika finansieel niks gaan baat uit die e-tol nie want dit wat nie gebruik gaan word om dokumente volgens wet op die regte wyse uit te stuur nie, moet Oostenryk toe gaan na die maatskappy aan wie die e-tol behoort. So hoekom moet ons ‘n Oostenrykse maatskappy super ryk maak. Daar word dan kamma gese die doel van e-tol is om ons land se paaiestelsel te verbeter!!!!

Eben ·

Vusi Mona vertel ons as die verkeerd outjie sê daar is boete uitstaande by my, wat dan ….. Wat gaan dan gebeur? Watter bewyse het hulle dat ek wel die boete ontvang het ….

Willy ·

Eben ek het al geleer van hierdie kusiete. Wanneer iets wat hulle geimplementeer he, en dit werk nie, soos altyd begin hulle met dreigaksies. Vat hulle stellings maar met ‘n knippie sout.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.