Sanral ontken hy’s bankrot

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het Donderdag ontken dat hy nie meer geld het of dat beleggers huiwerig is om verdere finansiering te verskaf nie.

“Berigte dat Sanral bankrot is, is verkeerd. Sanral het twee portefeuljes, naamlik die tolpaaie en die nie-tolpaaie,” het Vusi Mona, woordvoerder van Sanral, in ‘n verklaring gesê.

“Die nie-tolportefeulje bestaan uit fondse van die nasionale fiskus wat van die tesourie ontvang word. Dit beloop ongeveer R10 miljard per jaar. Hierdie fondse word aangewend om die nie-tolpadnetwerk in stand te hou wat sowat 84% (16 584km) van die algehele padnetwerk van 19 704km verteenwoordig.”

Mona het toegegee dat fondse in die agentskap se tolportefeulje uitgeput is. “Met verwysing na die tolportefeulje het Sanral byna in totaliteit die beskikbare kontant uitgeput. Sanral kan homself nie deur die kapitale markte onder die huidige omstandighede befonds nie.”

Business Report het Donderdag berig dat die agentskap bankrot is met skuld van meer as R65 miljard, insluitend rente.

Die agentskap het glo R20 miljard van plaaslike en internasionale beleggers geleen om die Gauteng Freeway Improvement Project te finansier. Planne om ‘n e-tolstelsel op dié paaie te begin het egter protes ontketen en die projek het nog steeds nie ‘n aanvangs geneem nie.

Die DA het gesê Sanral se finansiële probleme is nóg ‘n rede waarom e-tol geskrap moet word. “Die DA benadruk sy versoek aan pres. Jacob Zuma om nie die Wysigingswetsontwerp op Vervoerwette en Verwante Sake (die sogenaamde E-tolwet) te teken nie,” het Ian Ollis, woordvoerder vir die DA, gesê.

“Dié wet sal aan Sanral carte blanche gee om tolhekke regoor die land op te rig sonder publieke en parlementêre insette.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.