Sanral verwerp bewerings oor e-tolskyfieverkope

Die Quagga-winkelsentrum in die weste van Pretoria. Foto: SAPA

Die Quagga-winkelsentrum in die weste van Pretoria. Foto: SAPA

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het Sondag Outa se bewering, dat motoriste nie e-tolskyfies koop nie, gekritiseer.

“Meer as 1.2 miljoen e-tolskyfies is al verkoop,” het Vusi Mona, woordvoerder van Sanral, in ʼn verklaring gesê. Hy beweer tussen 30 000 en 45 000 mense registreer weekliks op Sanral se stelsel.

Mona sê Sanral is dankbaar vir dié motoriste wat nie e-tolskyfies het nie, maar steeds betaal wanneer hulle van die tolpaaie gebruik maak.

Mona het egter die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) se navorsing bevraagteken dat motoriste nie e-tolskyfies aanskaf nie. “Ons weet nie wie doen hulle navorsing of hoe hulle steekproewe gedoen word of hoe geloofwaardig die studie is nie,” het hy gesê. “Ons syfers, soos enige ander aspek van ons bedryf, wat aan die parlement deurgegee word, is nie gebaseer op steekproewe nie, maar die werklike aantal geregistreerde gebruikers. Ons syfers word ook deur die ouditeur-generaal geoudit. Ons weet nie wie doen die oudit op Outa se navorsing nie,” het Mona gesê.

Hy sê die geld wat ingesamel word, word aangewend vir padinstandhouding en om die skuld af te betaal wat aangegaan is om Gauteng se snelweë te bou en op te gradeer. Sanral beweer dat, sedert e-tol in werking getree het, motoriste nou minder verkeer op die snelweë geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.