SAOG bevraagteken Zim-verkiesing

President Robert Mugabe (middel) en sy vrou, Grace op 16 Julie 2013 Foto: voanews.com

President Robert Mugabe (middel) en sy vrou, Grace op 16 Julie 2013 Foto: voanews.com

Die regverdigheid van Zimbabwe se verkiesing word bevraagteken, het die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) Maandag gesê, en bygevoeg dat die kiesersrol te laat aan die Nasionale Verkiesingskommissie deurgestuur is om geverifieer te word.

“Indien die kiesersrol nie betyds beskikbaar gemaak word nie, kan die regverdigheid van die verkiesing bevraagteken word,” het Bernard Membe, minister van buitelandse sake van Tanzanië, en hoof van die SAOG se verkiesingswaarnemingsending, aan joernaliste in die hoofstad Harare gesê. “Die verkiesing was egter in sy geheel vry, vreedsaam en oor die algemeen geloofwaardig,” het Membe bygevoeg.

Pres. Robert Mugabe het op 31 Julie die verkiesing in Zimbabwe met 61% van die stemme gewen, gevolg deur voormalige eerste minister Morgan Tsvangirai met 34%. Tsvangirai weier om die uitslag te aanvaar, en sê sy Movement for Democratic Change-party het die kiesersrol eers op die vooraand van die verkiesing ontvang wat dit onmoontlik gemaak het om die register van 6.4 miljoen mense te oudit.

Nadat die uitslag van die verkiesing bekend gemaak is, het die MDC Mugabe se oorwinning uitgedaag, maar Zimbabwe se konstitusionele hof het die saak van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Minstens was die SAOG eerlik daarmee om die regverdigheid van die Zim-verkiesing te bevraagteken want nie een van die ander waarnemers het dit gedoen nie.

Dis te betwyfel of Robert Mugabe hom enigsins aan die uitspraak van die SAOG sal steur – net so min as was hy hom destyds aan die SAOG-Tribunaal se uitspraak oor grondonteiening gesteur het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.