SAPD gee toe oor onbillikheid in omstrede misdaadintelligensiesaak

Kol. Kobus Roos Foto: Werner Beukes/SAPA

Kol. Kobus Roos Foto: Werner Beukes/SAPA

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Maandag met die aanvang van die omstrede misdaadintelligensiesaak wat Solidariteit namens kol. Kobus Roos voer, toegegee dat daar onbillik teen Roos opgetree is.

Lt.genl. Richard Mdluli, geskorste hoof van die misdaadintelligensie-eenheid en die SAPD se sleutelgetuie in die saak, het ten spyte van ʼn dagvaarding nie by die hof opgedaag om te getuig nie. Roos het ʼn beskermde bekendmaking gemaak oor omvattende korrupsie en plundering van geheime polisierekeninge, waarná hy geteister, geviktimiseer en na ’n pos geskuif is waar hy ledig is en nie meer die ondersoeke kon voortsit nie. Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê die kapitulering van die SAPD is vervat in ʼn formele dokument wat aan die hof voorgelê is. “Roos het getuienis in die hof gelewer oor die aard van die teistering en viktimisasie teen hom ná sy beskermde bekendmaking. Die SAPD kon hier ook geen weerleggende getuienis aanbied nie. Ingevolge die hofdokument word Roos ’n keuse uit ʼn aantal poste op soortgelyke vlak gegee waarna hy verplaas kan word. Die hof het ook beveel dat die SAPD Solidariteit se regskoste ten volle moet betaal. Die hof moet nog bepaal oor die vergoeding waarop Roos geregtig is.”

Kruger sê indien Mdluli in die getuiebank was, hy blootgestel sou gewees het om getuienis te lewer oor die inhoud van kol. Roos se bewerings in die beskermde bekendmaking. “Dit is dus geen verrassing dat Mdluli nie opgedaag het nie. Solidariteit sal nou die moontlikheid ondersoek om die omvattende getuienis wat vir hierdie saak versamel is onder die aandag van die openbare beskermer te bring.”

Kol. Roos, wat al vir 26 jaar in diens van die SAPD is, werk tans in die inspeksie- en evalueringsafdeling van misdaadintelligensie. Die afdeling was nooit funksioneel nie en is tans geskrap. Roos is deur Mdluli na dié afdeling geskuif nadat hy in ʼn beskermde bekendmaking bewerings en bewyse van korrupsie in misdaadintelligensie blootgelê het. Roos het voorheen as hoof in die interne-ouditafdeling van misdaadintelligensie waargeneem en was onder meer verantwoordelik vir oudits op die sogenaamde rekening vir geheime dienste. Mdluli het Roos onder meer aangestel om dié rekening te ondersoek; die ondersoek later weer stopgesit en Roos daarna verskuif na die pos wat hy tans beklee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ivan ·

Ek is verheug. Dankie Solidariteit. Hoekom moet daar altyd eers geld en tyd gemors word en mense deur traumas gaan voordat hulle (die korruptes) sal erken daar is gefouteer.
Ai.. met eish ja…

Gert ·

Hy lyk gelukkig na ‘n sterk persoon – die regte temperament vir ‘n polisieman wat reg en geregtigheid wil laat geskied. Voorspoed Kolonel, ons is TROTS op jou!! Dankie Solidariteit, ons is net so TROTS op julle!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.