SAPD se misdaadstatistiek glo foutief

misdaadDie Suid-Afrikaanse Polisiediens het die verkeerde bevolkingsgetalle gebruik om misdaadverhoudings vir die 2012/13-misdaadstatistiek te bereken, het die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) Woensdag gesê.

“Ons weet daar is ʼn mate van manipulasie op polisiestasievlak van die misdaadstatistiek, sekere mense is al daaroor vervolg,” het Gareth Newham, hoof van die regerings-, misdaad- en justisieafdeling by die ISS gesê. “Dit is egter die eerste keer wat ons sulke foute op nasionale vlak sien.”

Misdade soos moord is teen ʼn bevolking van 100 000 bepaal. Newham sê die polisie het bevolkingsberamings gebruik wat in 2001 deur Statistiek SA vrygestel is, wat beraam het dat die bevolking in 2011 nagenoeg 50.6 miljoen sal wees, in plaas van om die statistiek van die sensus in 2011 te gebruik, wat aangedui het dat daar 52.3 miljoen mense in Suid-Afrika woon.

Deur nie die bevolkingsgetalle aan te pas nie, het die polisie die toename in ernstige en gewelddadige misdade onderbeklemtoon.

Newham sê die ISS wil weet waarom die fout plaasgevind het en op watter vlak dit goedgekeur is. Die ISS het versoek dat ʼn formele onafhanklike ondersoek gedoen moet word oor die berekeningsfout.

Die amptelike misdaadstatistiek het aangedui dat moord in die Wes-Kaap met 0.5% toegeneem het, maar dit het eintlik met 10.1% toegeneem, het die ISS gesê. Die amptelike statistiek vir poging tot moord het ʼn afname van 5.5% aangedui, terwyl dit eintlik met 1.8% toegeneem het.

Toe Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, die misdaadstatistiek in September bekend gemaak het, het sy gesê misdaad is onder beheer en sy het ʼn boodskap van hoop en vertroue oorgedra aan Suid-Afrikaners, het die ISS gesê.

“Die jongste statistiek toon duidelik dat meer mense die afgelope jaar in hul huise, besighede en op straat vermoor en aangeval is, as in die vorige jaar,” het Newham bygevoeg.

Volgens Newham is die misdaadverhouding wat deur die polisie bekend gestel is, vir die eerste keer sedert 1994 statisties foutief.

Die ISS het Phiyega se kantoor glo skriftelik in kennis gestel van die fout, en het aangebied om dit te verduidelik en te bespreek, maar het tot dusver nog nie reaksie ontvang nie.

ʼn Woordvoerder van die polisie het ʼn openbare verklaring uitgereik en erken dat die bevolkingsberaming nie opgedateer was nie, maar het nie erken dat dit ʼn probleem is nie.

Lt.gen. Solomon Makgale, woordvoerder vir Phiyega, was Woensdagmiddag nie beskikbaar vir kommentaar nie, aangesien hy in ʼn vergadering is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jasper ·

n Blinde persoon kon met n tandestokkie voel hulle praat snert.

Chris Smit ·

As oud-SAW lid is dit skokkend om die onvermoe van die huidige staatslui om behoorlik te beplan waar te neem. Sou ons as soldate in die vorige SAW nie daarin kon slaag om alle relevante faktore tydens beplanning in berekening te bring en te oorweeg nie sou daar summier teen ons opgetree word. Deesdae word ‘n hele land deur onvermoende mans en vroue bedrieg sonder dat enige haan daaarna kraai.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.