SAPD sê Muldersdrift is “redelik stil”

Argieffoto

Pogings van die polisie om misdaad in Muldersdrift aan die Wes-Rand hok te slaan, werp glo vrugte af.

“Die beheer van hoofingange na die gebied is ‘n bydraende faktor,” het maj.gen. Phumzo Gela, kommissaris van die polisie, Woensdag gesê. “Daar is ook bykomende blitspatrolliemotors op die N4-snelweg en Beyers Naude-rylaan ontplooi.” Volgens Gela is Muldersdrift nou “relatief stil”.

Die afname in misdaad spreek boekdele,” het Gela gesê. “Die gemeenskappe wat nog steeds klagtes het, sê die mense wat misdaad pleeg is nie Muldersdrift-inwoners nie. Hulle is van Diepsloot of ander naburige informele nedersettings.”

Volgens Gela is die inhegtenisnemings en vordering wat op sommige “groot sake” gemaak is, ook ‘n aanduiding van die afname. Dit sluit die inhegtenisneming van drie mans in verband met twee huisbrake in 2012 in. Die mans het André Jordaan glo sewe keer tydens ‘n rooftog geskiet. Hy het later aan sy beserings beswyk. Die mans is uitgeken en word ook aan ‘n ander rooftog, waartydens die 13-jarige Alyssa Botha vermoor is, verbind. Haar pa en ouer suster is in die aanval beseer.

“Dertien mense is in hegtenis geneem vir misdade wat verlede jaar en in Februarie vanjaar gepleeg is,” het Gela bygevoeg. Drie mense is glo die afgelope drie weke tydens misdade in die gebied geskiet en gewond. ‘n 74-jarige man en sy 40-jarige dogter is deur ‘n groep van 10 in Lindley aangeval. Die man is in sy maag geskiet en die dogter is drie keer geskiet.

‘n Man is in Januarie tydens ‘n poging tot roof doodgeskiet. Hy het drie mans in sy huis betrap wat sy vrou met ‘n vuurwapen aangehou het. Hy is twee keer geskiet en het op pad na die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Clinicweg, waar Jordaan en Botha gebly het, is glo die swaarste getref met die meeste rooftogte. 93% van die huise is al geteiken.

Volgens die polisie is dit slegs klein items soos televisiestelle, klere en selfone wat gesteel word.

Die misdaadkoers het ook die toerisme in die gebied ‘n knou gegee. Die Gautengse departement van ekonomiese ontwikkeling het in Desember opgemerk dat daar duisende poste in Muldersdrift in die toerismebedryf beskikbaar is, maar dat misdaad die bedryf kelder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.