Saskok se lastersaak teen sportjoernalis

Graeme Joffe Foto: keynotespeakers.co.za

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het ʼn lastersaak van R21.1 miljoen teen die sportjoernalis, Graeme Joffe, by die Johannesburgse hooggeregshof ingedien, het Beeld Vrydag berig.

Die hofdokumente, wat op 3 Julie ingedien is, voer aan dat 23 van Joffe se sportrubrieke vir, onder andere Media24, lasterlik was en dat Joffe die organisasie van onetiese en onwettige gedrag beskuldig het.

Volgens die hofdokumente het Joffe geskryf dat Saskok “nie in die belang van Suid-Afrika optree nie, in korrupte aktiwiteite betrokke is en geld mors”.

Agt raadslede van Saskok, insluitend die organisasie se president Gideon Sam, en hoof uitvoerende beampte Tubby Reddy het die eis ingestel.

Die eisers sê hulle sal in die hof aanvoer dat dit wat Joffe geskryf het verkeerd is en dat hy bedoel het om hulle reputasie skade te berokken. Die agt het ook geëis dat Joffe sy uitlatings moet terugtrek en om verskoning moet vra.

Joffe het in reaksie hierop gesê dat hy, as ʼn sportjoernalis, ʼn verpligting het om die waarheid oor Saskok bekend te maak, dat die organisasie talle mense “geboelie” het en dat hulle moontlik poog om sy mond te snoer. “Ek gaan definitief die eis teenstaan,” het Joffe gesê.

Volgens Joffe volstaan hy by alles wat hy geskryf het en dat hy die feite het om die bewerings te staaf.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.