Sasol se Karoo-hidrobreking planne op die langebaan geskuif

Mense betoog teen Sasol se planne om hidrobreking in die Karoo te doen. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die petrochemiese reus, Sasol, het sy planne vir hidrobreking en die prospektering van skaliegas in die Karoo vir eers op die langebaan geskuif.

Die regering het vroeër ʼn moratorium ingestel op eksplorasie in die Karoo tot Februarie 2012 te midde van heftige teenkanting van omgewingsgroepe. Sasol se hoof finasiële beampte, Christine Ramon, het in ʼn verklaring gesê die maatskappy het onlangs ‘n uitgebreide tegniese studie gedoen vir die eksplorasie van skaliegas in die Karoo-kom. “Die tegniese samewerking permit wat toegelaat het dat ons dit doen, het op November 17 2011 verstryk en ons het besluit om nie verdere eksplorasie-aktiwiteite in die gebied voort te sit in die stadium nie,” het sy gesê. Sy sê Sasol sal egter voortgaan om die Suid-Afrikaanse skaliegas-landskap dop te hou vir nuwe verwikkelinge. Die minister van minerale hulpbronne, Susan Shabangu, het vroeër ʼn taakspan aangestel om hidrobreking in Suid-Afrika te ondersoek. Die ontginning van skaliegas word gedoen deur ʼn kombinasie van water, sand en chemikalieë onder hoë druk in rotsbodems in te spuit waarna die gas na die oppervlak gepomp word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.