Sasolburg Hoër-onnie sterk aan ná skietery

geweer4-320x1791Die onderwyser van Hoërskool Sasolburg wat Vrydag deur ʼn leerling van die skool geskiet en gewond is, sterk goed in die Emfuleni MediClinic aan na ʼn operasie.

Rehta Behr, die hospitaal se woordvoerder, het Woensdag gesê hy herstel goed en is uit die intensiewesorgeenheid na ʼn gewone saal oorgeplaas. Hy is Saterdag in die intensiewesorgeenheid geplaas nadat hy geopereer is om die koeël uit sy been te verwyder.

ʼn 15-jarige seun, wat glo die slagoffer van boelies by die skool was, het die onderwyser Vrydag geskiet. Die seun het Maandag in die kinderregtehof in Sasolburg verskyn. Sy naam mag nie bekend gemaak word nie omdat hy minderjarig is.

“Die kind is in die sorg van sy pa vrygelaat en moet na verwagting weer volgende maand in die hof wees,” het Phaladi Shuping, ʼn woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, gesê.

Die seun word van poging tot moord aangekla.

Die seun het na bewering sy oupa se vuurwapen na die skool geneem en die boelies daarmee gejaag. Die adjunkhoof het ingegryp, waarna die seun die vuurwapen op haar gerig het. Hy het die sneller getrek, maar die wapen het nie gevuur nie en die seun het weggehardloop.

Twee onderwysers het die seun agternagesit en hom probeer ontwapen. In die struweling het ‘n skoot afgegaan en een van die onderwysers is in sy been gewond. Die seun het weer probeer vlug en is deur die polisie aangekeer in DF Malanstraat in Sasolburg.

Lees ook:
Slagoffer van Sasol-skoolskieter stabiel
Onnie by Hoërskool Sasolburg geskiet

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

Ek hoop van harte die boelies gaan ook op hulle m@er kry…………..as dit nie vir hulle lafhartige gedrag was nie sou hierdie ding glad nie gebeur het nie. In my oë is ‘n boelie die grootste slapgat lafaard wat daar is!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.